Grettir se saga

Grettir op 'n illustrasie van 'n 17de eeuse Yslandse manuskrip
Grettir se monument by Bjargi naby Laugarbakki in Miðfirði
Bjarg in Miðfirði
Drangey

Grettir se saga (ook bekend as Grettla, Grettis saga of die saga van Grettir die Sterke) is 'n Yslandse saga oor die lewe van die banneling Grettir Ásmundarson. Die saga is een van Ysland se beroemdste en word ook as een van daardie land se mooiste sagas beskou.

Die verhaal is deur 'n onbekende outeur êrens gedurende die dertiende of veertiende eeu geskryf. Die handelinge uit dergelike verhale dateer gewoonlik tussen die einde van die negende tot in die elfde eeu, en gaan gewoonlik oor sake soos stryd, eer, aansien, en mag. In hierdie opsig is Grettir se saga ietwat van 'n afwyking. Hierdie saga handel oor 'n historiese persoon, en die verhaal is op 'n baie realistiese manier geskryf.

Die hoofkarakter kom nie net teen sy menselike opponente te staan nie, maar die verloop van sy lewe word veral deur die bemoeienisse van bonatuurlike wesens bepaal. Die resultaat hiervan is dat Grettir die grootste deel van sy volwasse lewe as 'n banneling deurbring.

Grettir is 'n geweldige sterk man en ken skaars vrees (behalwe vir die donker). Hy is egter geen held nie; hy is 'n antiheld. Sy dryfvere is nie per definisie sleg nie; hy is nogtans ongemanierd, hy het 'n nurkse en opvlieënde karakter en doen dinge waaroor hy later spyt is. Daarna het hy ook die slegte geluk dat 'n aantal van sy aksies onverwags teen hom werk.

In teenstelling tot vele ander sagas waar die hoofpersone by die plundertogte van die Wikings betrokke is, is dit by Grettir se saga nie die geval nie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search